Ek kom agter dat ek deesdae verskriklik nuus-kierig is. Orals waar ek heen gaan, gaan my kamera (die rooigevaar), ‘n pen (Tom) en notaboekie saam – wys jou net, die joernalis binne my wil uit! Ek keer egter nie, dis dan deel van my toekoms! Verbeel jou: ‘n New York Times- of Die Burger-voorbladartikel, geskryf deur die uwe, Johan Brink – senior joernalis of selfs redakteur! Klink vir my reg. Maar vir eers is ek die sub-redakteur van die Suidooster Koerant.
Die afgelope week, of selfs maand, was taamlik interessant gewees. Soveel geleenthede het na my kant toe gekom, en soos gewoonlik laat dit my mos dink… Judge me if you must, maar ek is ‘n denker en innoveerder. My lewenslegkaart is besig om in plek te val, en die idees is besig om my só opgewonde te maak, dat dit eintlik lagbaar is! Die arme mense met wie ek elke dag te doen het, arme, arme mense… Ek moet wel byvoeg dat dit te danke aan hierdie arme mense is dat ek is waar ek vandag is.
Een van die mense na wie ek opkyk, ‘n goeie vriend van my, Nico Human, is een van hierdie mense aan wie ek my dank wil betoon. Vandag weer het hy my die nodige “tips & tricks” gegee om ‘n sukses van my toekoms te maak.
Voor ek hier heel nostalgies begin raak en julle in trane het, groet ek eers tot ‘n volgende keer!
~Johan Brink was hier! =)