Hmmm… Oktober 2013 – Ek dink ek het tè lank laas gepost op my blog. Vandat ek laas iets opgelaai het, het daar al ‘n klomp dinge gebeur, soveel so dat ek nie eers meer alles kan opnoem nie.
Ek besluit toe mos nou-die-dag – ‘n winderige, ietwat koel dag – hoekom stap ek nie bietjie langs die see nie? Ag, kom ons wees sommer bietjie waaghalsig en sit ‘n draairoomys by om die kersie op die koek te sit. Lekker simpel… Maar dit nou daar gelaat, toe loop ek mos nou en roomys eet, hou myself sterk teen daai briesie, en ek verkyk my aan die mense om my. Jonk, oud, vertikaal gestremd (want om te sê iemand is “vet” tender jy mos vir ‘n lekker klap), maer, sportief of sommer-maar-net. Gewoonlik herken ek so een of twee mense by die see – nie een het ek herken daai dag nie!
Verder gestap, loop ek verby die lifeguards se area. Dit was lekker winderig, so die kitesurfers het op die water rond getroebadoer – golwe “gery” as jy dit nou so wil noem. My kamera was in my broeksak terwyl ek my oë verloor het op een van die kitesurfers wat homself gate-uit geniet op die water. Die volgende oomblik was dit of die photografiese-wêreld in harmonie gekom het, want die son was op die perfekte angle, ‘n agtergrond waarvoor enige fotograaf op sy knieë sal gaan en voor smeek – ‘n beeldskone sonsondergang met ‘n kleurvolle warboel van kites, en die buitelyne van ‘n mens wat 1.5 meter in die lug opskiet met perfekte detail en ‘n ongelooflike uitdrukking van geluk op sy gesig. Dìt was nou wat ‘n mens sou noem, ‘n “Kodak-oomblik”. En wat gebeur toe? Toe’s my mik-en-drukkie so oulik om nog eers aan te pas by die sonlig toe dit gebeur het. En toe die kamera eindelik iets afneem, toe’s ek letterlik met milisekondes te laat! O-wee. Jou moed sak sommer in die sand in oor so ‘n gemiste oomblik, maar êrens kom daai geleentheid weer vir my!
Vandag werk ek deur finansiële state en ek moet sê, “stokkiesdraai” het ‘n nuwe betekenis gekry. Dis een van die verveligste goed om state te ontleed. Ek sny eerder gras of was skottelgoed (okay, nou nie die laaste een nie) voordat ek dit moet doen. Maar so byt ek vas en druk deur. Later kon ek eenvoudig nie meer nie, toe’s dit tyd om chemiese eksperimente te doen – terloops, ek’s versot op chemiese eksperimente, astronomie, wetenskap en besigheidsgoed. Die eksperiment was maar baie elementêr hoewel dit darem gehelp het om my konsentrasie te verbreek. Gaan Google bietjie Copper Sulfate + Aluminium reaction en kyk na hierdie video: https://www.youtube.com/watch?v=ZQl1TN5h1bA.
Noumaar kom ek begin weer met die nommertjies te gesels. Tot later!